AFRIKAANSE GEDIGTE

image69

 

Welkom By God's Huis
deur Belinda van Rensburg
 

Welkom hier by God se Huis -
Ons hoop jy voel sommer gou tuis;
Jou broers en susters wag vir jou
Om saam met hul God's Ryk te bou.
 

Bring iemand saam of kom alleen
Kom in die hitte of die reën,
Hier is 'n plekkie net vir jou,
Jou kinders en jou man of vrou.
 

Welkom, Welkom, kom tog in
Sodat ons almal saam kan sing
Tot God's verheerliking en eer,
En uit Sy Woord uit saam kan leer.
 

Kom drink met ons 'n koppie tee
En deel met ons jou vreug en seer;
Kom kyk hoe ons ons tyd bestee
Saam met mekaar en met ons Heer.  

© 2008

_________________________

  

Woordestryd

 deur Belinda van Rensburg 


Die ou duiwel hou my besig
Om te stry oor elke ding
Ag, die tyd wat ek tog so mors
Wyl ek lof aan God kan bring.
 

Baie nuttelose woorde
Word daagliks gespreek; gepen -
Kan ek deur twis; opstandigheid
Een siel vir die Here wen?
 

Volgens twee Timoteus twee
Lei Woordestryd tot ondergang
Maar om die Heil’ge Woord van God
Reg te sny’s van groot  belang.
 

Dit is my diepste hartsbegeerte
Om God se instrument te wees
Om Jesus Christus na te volg;
Daagliks te wandel in Sy Gees.
 

Gereinig en gevul met vrede -
Sy dienares bruikbaar en sterk
Vriend’lik, liefdevol en nuttig:
Toeberei vir goeie werk.
 

Mag ek strydvrae gou-gou afwys;
Onthou dat dit net twis verwek;
Weerspanniges sagmoedig regwys
Tot eer van God en van Sy Kerk.
© 2015

-----------------------------


Vul ons met U Liefde
deur Belinda van Rensburg
Mag, O Here, ons liefde
Toeneem en groei in U;
Mag dit nooit lou of koud word;
Nimmer verkluim, verflou nie.

Blaas die vuur in ons harte
Sodat dit warm kan gloei;
Kap elke vruglose tak af,
Hou aan en aan met snoei.

Ons slim argumente, debatte;
Ons dooie woorde en werke
Het geen Ewige waarde
Al sit ons in stampvol kerke.

Alles help niks as ons liefde
Vir U en mekaar verflou;
Kom vul ons tog, Here Jesus
Met U ware liefde nou.
© 2010
-----------------------------

 Lighuis
deur Belinda van Rensburg

'n Baken in die donker nag
Flits seine skerp en sterk van krag;
Waarskuwings teen die skuil-gevaar
Vir iedereen wat herwaarts vaar.

Rondgeslinger deur die weer
En deur getye meegesleur
Maak vaarders staat op 'n lighuis
Om hul die regte weg te wys.

So moet ons ook Christus verklaar
Om die wat sterwend is te spaar;
Om ongereddes in te lig
En hul te lei na God se Lig.  

© 2008

-----------------------------

Top of page

KINDERGEDIGGIES

image70

 

Nagvrees

deur Belinda van Rensburg


 Ek het 'n baie goeie verbeelding;
Van enigiets maak ek gou-gou 'n speelding
In my gedagtes droom ek dinge op
Wat slegs bestaan in my eie kop.
 

Soms in die donker, swarte nag
Verbeel ek my monsters lê loerend en wag
Vir my om aan die slaap te raak
Sodat hulle my bang kan maak.
 

Ek wonder waar die gedrogte skuil?
Ek is baie bang en lus om te huil -
Wat moet ek doen? Hoe moet ek maak
Om van my gedagtes ontslae te raak?
 

Ek vou my hande en bid klip hard
“Jesus, alles is donker en swart
Ek is vreesbevange; bang
Vir monsters en goeters wat my wil vang.
 

Help my, Jesus; help my tog
Beskerm my teen elk gedrog
Stuur U eng'le om oor my te waak
Sodat ek veilig en rustig kan slaap.”
© 2009
_________________________

 

My Hartjie Is Bly

deur Belinda van Rensburg


Dankie Jesus vir voëltjies wat sing
Sprinkane wat spring
'n nuwe begin.
 

Dankie vir hierdie mooie dag
Vir vreugvolle lag
En rus in die nag.
 

Alle mooi dinge is deur U gemaak -
Sagte diertjies om aan te raak
Gesonde kossies wat lekker smaak
Eng'le wat dag en nag oor my waak
'n Pappa en Mamma wat lief is vir my;
U hele Skepping maak my hartjie bly.

© 2009

_________________________